
Die veiligheidsbeampte se bakkie. Foto: Centurion Concerned Citizens / Facebook
ʼn Jong man van Pretoria is Woensdagoggend geskiet nadat ʼn veiligheidsbeampte hom glo vir ʼn inbreker aangesien het.
Die 22-jarige man woon in ʼn buitekamer op sy ouers se erf in Heuweloord, Centurion. Sy ouers is kliënte van die veiligheidsmaatskappy ADT.
Leon Muller, ADT se bestuurder van die noordelike streek, het Donderdag aan Maroela Media bevestig dat ʼn ADT-reaksiebeampte omstreeks 05:06 die kliënt se seun in die been geskiet het, omdat die beampte glo gedink het hy was ʼn inbreker.
“ADT het gereageer nadat ʼn alarm by die kliënt se huis afgegaan het,” het Muller gesê. “Die beheersentrum het probeer om die kliënt te bel om agter te kom wat aangaan, maar kon nie die kliënt in die hande kry nie. Die beampte is daarna volgens normale prosedure na die huis gestuur om ondersoek in te stel.”
Muller het gesê met die beampte se aankoms op die toneel, het hy gesien die buitekamer se deur staan oop. “Hy het gaan ondersoek instel om te bepaal of daar geforseerde toegang was en toe hy by die buitekamer inloer het hy iemand in die donker in sy rigting sien aankom.”
Volgens Muller beweer die beampte hy het gevra wie dit is, maar die persson het nie geantwoord nie. Hy het glo aangeneem dit is ʼn inbreker en ʼn skoot afgevuur. “Die spesifieke inligting oor die voorval is nog nie met die kliënt se seun bevestig nie. ADT het ʼn interne ondersoek van stapel gestuur en alle inligting word met die polisie gedeel.”
Die seun het ʼn vleiswond aan sy regterkuit opgedoen. Netcare 911 is ontbied en die seun is in ʼn stabiele toestand na die Muelmed-hospitaal geneem.
“Ons is vreeslik jammer oor die ongelukkige voorval en vra die inwoner en sy gesin opreg om verskoning. Ons interne ondersoek duur voort en ons sal ons samewerking aan plaaslike owerhede gee.”
Die beampte is deur die polisie van die toneel weggeneem.
Kapt. Tsekiso Mofokeng, woordvoerder van die polisie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die beampte is op waarskuwing vrygelaat en moet later in die stad se landdroshof verskyn. ʼn Datum vir sy hofverskyning moet nog bepaal word.


