Clik here to view.

Argieffoto: SAPD / Facebook
Vyf verdagtes is Dinsdag in Kaapstad in hegtenis geneem ná ʼn inbraak by ʼn huis in Strand wat tot ʼn jaagtog gelei het.
Konst. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê veiligheidswagte het omstreeks 11:00 gereageer op ʼn inbraak by ʼn huis in Diazstraat.
“Met hul aankoms op die toneel het hulle ʼn silwer Hyundai Getz van die toneel sien wegjaag en die motor agternagesit,” het Rwexana gesê. “Die wagte het die Strand-polisie ontbied, wat by die jaagtog aangesluit het.”
Rwexana het gesê die Strand-polisie het die Khayelitsha-polisie van die jaagtog in kennis gestel aangesien die verdagtes in die rigting van Khayelitsha gevlug het. Die verdagtes se motor is om 11:30 op die N2 naby Site C in Khayelitsha van die pad getrek en die verdagtes is in hegtenis geneem.
“Die verdagtes was in besit van ʼn nagemaakte vuurwapen. Daar is ook vasgestel dat die voertuig waarmee hulle gery het op 31 Desember in Bellville gesteel is. Daar is ook beslag gelê op huisware wat na bewering gesteel is.”
Die vyf verdagtes, almal mans tussen 26 en 30 jaar oud, sal na verwagting Donderdag in die Strand-landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak, diefstal, die besit van vermeende gesteelde goedere en die besit van ʼn onwettige vuurwapen.