
Foto: SAPD
ʼn Polisiebeampte en nog vier verdagtes is in Limpopo in hegtenis geneem vir die beweerde besit van vervalste geld.
Lt. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het gesê daar is glo R3 miljoen se vervalste geld in die verdagtes se besit gevind.
Konst. Winners Mashaba (29), verbonde aan die Namakgale-misdaadvoorkomingseenheid, is saam met Mmola Ngoako (30), Ntshepeng Steve Segage (31), Vuyisa Sobuswa (50) en Xoliswa Nkabi (41) in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk van die publiek ontvang het.
“Beamptes het hulle in Lebowakgomo voorgekeer, terwyl hulle in ʼn wit Toyota Yaris onderweg was,” het Netshiunda gesê. Die geld was glo in ʼn skooltas in die voertuig versteek. “Een van die insittendes het dadelik erken die geld behoort aan hulle almal. Hulle is dadelik in hegtenis geneem.”
Die verdagtes het reeds in die hof verskyn en die saak is tot 20 Januarie uitgestel. Die polisie het intussen met dissiplinêre stappe teen Mashaba begin.