
Die Noorweegse vlag. Foto: http://aremobility.com/
Terwyl die minister van vervoer Dinsdag aangekondig het dat meer mense tydens die feesseisoen op Suid-Afrikaanse paaie dood is as in die oorstemmende tyd die vorige jaar, het Noorweë pas bekendgemaak dat geen kinders jonger as tien jaar in 2015 op dié land se paaie gesterf het nie.
Volgens ʼn verslag van die Noorweegse raad vir padveiligheid is dit die eerste keer dat dié mylpaal bereik is.
“Daar is in 1970 ongeveer 100 kinders dood op Noorweegse paaie. Dit is duidelik dat sitplekgordels, ʼn verlaagde spoed en veiliger paaie lewens red,” het Jan Johansen, direkteur van die raad, gesê.
Johansen meen die afnames van sterftes op paaie kan toegeskryf word aan wette om kinders se veiligheid op die paaie te verseker.
Hy het ook gesê daar is oor die algemeen baie minder sterftes op Noorweegse paaie: In 2015 was daar slegs 113 padsterftes teenoor die 147 in 2014.
“Mense se houding teenoor padveiligheid het verbeter. Daar is egter nog nie rede om op en af te spring nie,” het Johansen gesê. “Daar is 113 mense vanjaar op die paaie dood, en dis 113 te veel.”
Dipuo Peters, minister van vervoer, het Dinsdag aangekondig dat 1 755 mense op Suid-Afrikaanse paaie gesterf het. Sy het gesê noodlottige ongelukke in Suid-Afrika het met 11% toegeneem.