
Die snelweë in Gauteng is vanoggend weens die reën Foto: @trafficSA, Twitter
Die Ekurhuleni departement van ramp- en nooddiensbestuur het gesê swaar reën kan kitsvloede in Gauteng veroorsaak.
“Plaaslike vloede word in verskillende gebiede dwarsoor die provinsie verwag,” het William Ntladi, woordvoerder, gesê. “Hoë volume water word in riviere, kanale en strome verwag wat tot kitsvloede kan lei.”
Ntladi het gesê die rampbestuurpersoneel word op hoë gereedheid geplaas, veral aangesien die weerstoestande leerlinge kan beïnvloed wat Woensdag teruggaan skool toe.
“Talle kinders en skoliere kan dalk skool toe loop en staan die risiko om te verdrink wanneer hulle ʼn rivier of stroom moet oorsteek om by die skool te kom,” het hy bygevoeg. Hy maan inwoners om seker te maak hulle steek nie oorstroomde kanale of riviere in vloed oor nie.
Ouers word ook versoek om hul kinders aan te moedig om gebiede wat oorstroom het, te vermy.
Ntladi het gesê motoriste moet ook snelweë vermy wat oorstroom het. “Indien jou voertuig skielik oorstroom, moet jy dit verlaat en na hoër grond klim,” het hy gesê. “Moet nooit oor ʼn brug ry wat deur water oorstroom is nie. Jy weet nie hoe diep dit is en of die pad weggespoel het nie.”