
Argieffoto
Die polisie in Kaapstad het vier persone in hegtenis geneem in verband met ʼn diefstal by ʼn juwelierswarewinkel Dinsdag in Mitchells Plain.
“Die rooftog het omstreeks 12:46 by die juwelierswarewinkel in ʼn winkelsentrum plaasgevind,” het konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, gesê. “Twee van die diewe het die kabinette stukkend geslaan en ʼn onbekende aantal juwele gegryp voor hulle in ʼn voertuig van die toneel gevlug het.”
Rwexana het gesê die polisie het kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval bekom.
“Die inligting van die voertuig waarmee die verdagtes gevlug het, is met die Khayelitsha-blitspatrollie gedeel en ʼn voorlopige ondersoek is gedoen,” het sy bygevoeg. “Vier persone is omstreeks 16:00 in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die voertuig en verdere bewysstukke.”
Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.