
Oscar Pistorius Foto: Werner Beukes/SAPA
Dit is “in belang van geregtigheid” dat die konstitusionele hof Oscar Pistorius moet toelaat om teen sy skuldigbevinding aan moord te appelleer.
Andrew Fawcett, wat deel van Pistorius se regspan is, het Dinsdag gesê die appèlhof het “drie regsfoute” begaan in sy beslissing dat Pistorius skuldig is aan moord.
Pistorius is aanvanklik aan strafbare manslag skuldig bevind ná die skietdood van sy vriendin Reeva Steenkamp op Valentynsdag in 2013. Die staat het egter appèl aangeteken en versoek dat Pistorius aan moord skuldig bevind word. Pistorius is verlede maand aan moord skuldig bevind.
Die konstitusionele hof is Pistorius se laaste kans om tronkstraf vry te spring. Die direkteur van openbare vervolging het nou tien dae om aan te dui of die aansoek teengestaan gaan word en indien wel op watter gronde.
Fawcett voer in die hofdokumente aan dat die appèlhof sy “beperkte jurisdiksie oorskry het” en dat die hof “onregmatig en ongrondwetlik opgetree het” deur die bevinding van die hooggeregshof ter syde te stel.
Volgens Fawcett het die appèlhof slegs die eerste komponent van dolus eventualis (voorsienbaarheid en versoening) toegepas en het die hof versuim om die onlosmaaklike verhouding tussen die eerste komponent van dolus eventualis (versiendheid en versoening) met die tweede komponent van dolus eventualis (wederregtelikheidsbewussyn) in ag te neem. Fawcett het gesê die dolus eventualis-bevinding het nie in ag neem of Pistorius met die “nodige wederregtelikheidsbewussyn” opgetree het nie.
Fawcett het die staat ook daarvan beskuldig dat hy Pistorius se “gemoedstoestand wat in gedrang was” uitgebuit het deur hom onder meer vir sewe dae op ʼn “veglustige en aggressiewe wyse” bloot te stel aan kruisondervraging, deur vir hom ʼn foto van Steenkamp se lyk te wys en deur hom as ʼn leuenaar uit te kryt.
Die konstitusionele hof moet nog ʼn aanduiding gee of hy die appèl gaan aanhoor.
Klik hier vir alle vorige berigte oor die Oscar Pistorius-saak op Maroela Media.