
‘n Skermskoot van die webtuiste.
Die BBC berig die inligting wat vroeër vanjaar ná ʼn kuberaanval op ashleymadison.com gesteel is, is glo op die sogenaamde “donkerweb” of “diepweb” gepubliseer is wat beteken dit is slegs beskikbaar via geënkripteerde webbedieners.
Die webtuiste ashleymadison.com moedig buite-egtelike verhoudings aan en het glo sowat 40 miljoen lede regoor die wêreld en tot 175 000 Suid-Afrikaners is op dié webtuiste geregistreer. Volgens Avid Life Media (ALM), die maatskappy wat Ashley Madison besit, is ʼn tegnologieveiligheidsfirma aangestel om die saak te ondersoek.
Die kuberkrakers het nadat hulle die persoonlike inligting gesteel het, gedreig om dit bekend te maak indien die webtuiste nie totaal verwyder word nie.
Die tegnologiewebtuiste Wired beweer daar is 9,7 GB se data gepubliseer en dat dit mense se kredietkaartbesonderhede insluit.
ALM het in ’n verklaring gesê hulle werk saam wetstoepassers om die skuldiges vas te trek. “Die krimineel, of kriminele, wat hierby betrokke is het hulself aangestel as die morele regter, jurielid, en laksman, en sien niks daarmee fout om ’n persoonlike idee van kuisheid op die hele samelewing af te dwing nie. Ons sal nie ledig sit en toelaat dat hierdie diewe hul persoonlike ideologie op burgers regoor die wêreld afdwing het nie,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.