Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Zuma slinger steeds boemerangs

$
0
0

Foto: ANC/Twitter

Foto: ANC/Twitter

Die ANC plaas die voortgesette swak vertoning van die rand vierkant voor die deur van faktore buite sy beheer, maar hoewel daar ’n effense waarheid in steek, stook die onbesonne uitsprake van pres. Jacob Zuma en ander ANC-hooggeplaastes die probleem met mening.

Ná afloop van Nenegate het die ANC hoog probeer opgee oor die “positiewe aspekte” van ’n regering wat luister na die mense en regstel waar nodig.

Baie mense was inderdaad baie verlig dat Pravin Gordhan as uitvloeisel van die debakel weer die minister van finansies geword het.

Maar die rand het oorwegend bly daal … Gister het dit in ’n stadium by die R18 teenoor die dollar gaan draai.

Die ANC gee hoog op dat die rand se sukkelvertoning aan buitelandse gebeure, veral ekonomiese gebeure, gekoppel is. Maar dis net ’n halwe waarheid. Die sterk vermoede dat die ANC (al weer) erg kluitjies rondom die Nenegate-kwessie bak om skadebeheer te probeer toepas dra tot die destabilisasie by.

Op 9 Desember verlede jaar het Maroela in sy nuuskommentaar onder die opskrif, “Trekpas vir Zuma om SA te red”, verwys na die ekonoom, Dawie Roodt, se stelling: Die enigste manier waarop Suid-Afrika rommelstatus kan vryspring, is om van Zuma as president ontslae te raak.

Toe die “geleentheid” hiervoor kort hierna met die Nenegate-kwessie opduik, het die ANC egter besluit om eerder die geledere om Zuma te sluit. Dit het duidelik met ’n strategie verband gehou, en ’n mens kon maar net hoop dat ’n bestendiging van die ekonomie deel hiervan sou wees. Dit sou onder meer moes behels ’n wag voor Zuma se mond en dat veral sy uitsprake met ekonomiese gevolge eers deur werklike kundiges gesanksioneer sou word.

Daar was wel ’n strategie, maar nie een om Suid-Afrika en sy mense eerste te stel nie, maar om die ANC so goed moontlik in vanjaar se munisipale verkiesings te laat vaar. ’n Deel van die strategie was die geykte blaampolitiek waarin almal, van Jan van Riebeeck tot PW Botha, die blaam moes kry vir alles wat die ANC eiehandig verbrou het.

Ook opposisiepartye moes swaar dra aan die blaam, soos Zuma se klag dat die opposisie se hardlopery na die howe die ANC se wetgewende program ontwrig, en dat dit eintlik tot nadeel van ontwikkeling is. Dit laat ’n mens nogal aan die kaptein van ’n baie sterk rugbyspan dink wat die kous oor die kop gekry het. Sy verweer was dat die skeidsregter hulle darem woes vir vuilspel gestraf het, en dat hul wenkans so daarmee heen was. As die ANC nie vuil gespeel het nie, sou die howe immers nie op ’n streep die opposisie gelyk gegee het nie.

’n Tweede, geykte element is om als en almal wat in die ANC se pad staan van rassisme te beskuldig. Selfs mense met ’n besonder skoon rekord van nié rassisties wees nie, soos die joernalis Carien du Plessis, is van rassisme beskuldig en teen opgetree (maar darem later ná ’n biegsessie vergeef). Sy het iets durf verwoord, en nogal heel vindingryk, wat ander joernaliste al lank waargeneem het en nie kans gesien het om die pen aan te waag nie.

Nou is die jong mense van AfriForum Jeug wat praktiese beslag aan ’n hofbevel gegee het om straatnaamborde in Pretoria terug te plaas, van rassisme beskuldig. Dis voorafgegaan deur ’n heel onverkwiklike verwikkeling toe vyf lede in hegtenis geneem en aangehou is “vir wat hulle gedoen het”.

Die Penny Sparrow-saak het soos ’n ryp vrug in die ANC se skoot geval.

Intussen het Zuma weer ’n hele rits omstrede kwessies aangeraak en mites as feite gaan opdis. Hy is onmiddellik as leuenaar afgemaak, iets wat nie bevorderlik is vir ’n beeld van ’n bestendige regering waar beleggers maar kan waag om hul geldjies te belê nie. Hy het ook voortgegaan om die allergrootste snert oor die ekonomie en die markte kwyt te raak, wat uiteraard ook potensiële beleggers die wille weghollens gee.

Geen wonder nie dat die joernalis Hanlie Stadler, in haar artikel “4 faktore wat die rand afdruk” op Netwerk 24, die Zuma-faktor as een lys. Die ander is ’n verdamping van ’n lus om risiko’s te waag weens faktore soos die Chinese ekonomie en Noord-Korea se kerntoets wat as ’n waterstofbom opgedis is.

Die stand van die Chinese ekonomie en die feit dat dit nou beter in die VSA gaan (waar werkloosheid onder meer krimp) speel ook ’n rol.

Zuma self, met stellings soos dat “die grond” by swart mense gesteel is, sorg dat hy die teiken bly van die bykans deurlopende en gewilde tydverdryf van Zuma-bashing. Hy woon in ’n glashuis, maar gooi met klippe. Hoe dink hy byvoorbeeld het die Zoeloes die grond bekom wat eens deur die Khoi-San bewoon is?

Al kon die Zuma-ramp nie in Polokwane voorsien gewees het nie, het hierdie spook die ANC (en ongelukkig veral die land) nou al soveel keer tot vervelens toe besoek dat die ANC nie meer anders kan nie as om self pa te staan vir die voortsleep daarvan.

En so ’n party verdien om by die stembus, in die media, in die howe en op elke speelveld strafskoppe teen hom te kry. #ZumaMustFall.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!