
Die situasie by die Universiteit van Pretoria. Foto: @RRuffiez/Twitter
Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van die universiteit, het gesê ʼn groep mense, onder wie kontrakwerkers by die universiteit, het Maandag begin betoog teen die uitbesteding van werk asook hoër salarisse.
“Die nasionale veldtog teen uitbesteding en arbeidsmakelaars sluit universiteite en kolleges sowel as staatsdepartemente en die private sektor in. Gesprekke tussen die universiteit se bestuur en die onderskeie belanghebbendes rakende die uitbesteding van dienste by die universiteit word beplan,” het Bouwer gesê.
Intussen het ʼn groot aantal studente Dinsdagoggend by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) opgedaag in die hoop om vir die nuwe akademiese jaar te registreer. Slegs studente wat eksamens skryf en personeel is egter op die kampus toegelaat.
Die bestuur van die universiteit vergader glo met lede van die studenteraad. Betogende studente dring onder meer aan op gratis onderwys, geen registrasiefooie en die skrap van agterstallige studiegeld vir studente wat graad kry.
Shirona Patel, Wits se woordvoerder, het Maandag gesê registrasie sal eers Woensdag voortgaan weens die betogings. Die universiteit het gesê studente kan aanlyn en telefonies registreer.