Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Parys-boere: Gemoedere loop hoog by hof

$
0
0
Polisiebeamptes en inwoners buite die hof. Foto: Mariné Jacobs

Polisiebeamptes en inwoners buite die hof. Foto: Mariné Jacobs

Daar is Dinsdagoggend ‘n swaar polisieteenwoordigheid voor die Parys-landdroshof in die Vrystaat waar vier boere gaan verskyn in verband met die dood van twee plaasaanvalverdagtes.

Maroela Media het vroeër berig Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr. is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die dood van twee verdagtes wat ’n boer op sy plaas aangeval het.

ANC- en EFF-lede het in twee afsonderlike groepe voor die hof betoog en geëis dat die beskuldigdes nie borgtog toegestaan word nie. April Motaung, woordvoerder van die EFF, het aan Maroela Media gesê die vermeende plaasaanvallers was eintlik plaaswerkers wat bloot na die plaas gegaan het om hul salarisse te gaan haal.

“In plaas van om hulle te betaal, het die boere besluit om hulle eerder brutaal te vermoor. Hierdie storie dat hulle plaasaanvallers was, is ’n leuen. Hulle wou net hul geld gehad het en is in ’n brutale rasgedrewe voorval doodgemaak.”

Zenzile Megadlele, woordvoerder van die ANC, het ook beweer die oorledenes was onskuldige plaaswerkers wat vermoor is toe hulle hul geld gaan haal het.

’n Groep plaaslike inwoners, onder wie talle boere, het ook voor die hof saamgedrom, maar wou nie met die media praat nie.

Oproerpolisie het roldraad naby die hof en tussen die onderskeie betogende groepe gespan, vermoedelik om enige gewelddadige optrede te voorkom. ’n Skermutseling het ontstaan toe die polisie probeer het om die groep plaaslike inwoners te verwyder en hulle verder weg te dryf van die hof se ingang af. ’n Woordvoerder van die polisie was egter nie op die toneel beskikbaar om die rede hiervoor te verduidelik nie.

Polisiebeamptes het toegang tot die hof beheer en niemand is toegelaat om die hof te betree voor die familie van die oorledenes en die beskuldigdes nie.

Klik hier vir alle vorigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

Foto: Mariné Jacobs EFF-betogers buite die hof. Foto: Mariné Jacobs

Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images