
‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.
Twee mans van mededingende private ambulansdienste in Rustenburg in Noordwes het Dinsdag in die hof verskyn nadat ʼn video van ʼn onderonsie tussen die twee, vermoedelik oor wie ʼn pasiënt gaan vervoer, opslae op sosiale media gemaak het.
Ian Janse van Rensburg (45), ʼn paramedikus van Trauma Rescue EMS, en Marlin Kops (29), mede-eienaar en paramedikus van Med24/7, het in die hof verskyn op aanklagte van intimidasie en aanranding nadat albei partye kriminele aanklagte teen mekaar aanhangig gemaak het. Dit volg nadat die twee glo verlede Woensdag omstreeks 17:00 by ʼn ongelukstoneel ʼn onderonsie gehad het oor ʼn pasiënt.
Maroela Media het vroeër berig in die kort video kan ʼn mens sien hoe die twee mans in ʼn woordewisseling betrokke is waarna Kops, in gewone klere, glo Janse van Rensburg, in ʼn uniform, ʼn hou toedien.
Janse van Rensburg het dieselfde dag klagtes teen Kops by die polisie aanhangig gemaak en Kops het die dag ná die voorval klagtes teen Janse van Rensburg aanhangig gaan maak.
Klaasje Dippenaar, wat saam met haar man, Wert Dippenaar, Trauma Rescue EMS besit, het vroeër aan Maroela Media bevestig dat Janse van Rensburg vir hulle werk.
“Ons lede was eerste by ʼn ongelukstoneel. Ons het ʼn reaksievoertuig en twee ambulanse na die toneel gestuur om bystand te bied. Daar was altesaam vyf lede van ons personeel,” het Dippenaar destyds gesê.
“Die pasiënt was reeds behandel en in een van ons ambulanse toe Kops, ook ʼn paramedikus maar met ’n laer kwalifikasie as ons lid, in siviele klere daar opgedaag en begin inmeng.”
Volgens Dippenaar het Kops aggressief opgetree, hul personeel beledig en probeer intimideer, asook kapsie gemaak omdat Trauma Rescue die pasiënt vervoer.
“Ons het al voorheen met die persoon te doen gekry. Hy het al drie keer van ons lede op ʼn toneel aangerand in ʼn poging om oor te neem.”
Sy het gesê Trauma Rescue is al sedert 2001 in die provinsie bedrywig en het 110 personeellede. “Sedert Med24/7 in Oktober 2011 gestig is, probeer die Kops ʼn skrikbewind voer en tree soos ʼn boelie op. Dit wil voorkom of geld vir hom belangriker is as ʼn mens se lewe. Ons werkers is bang vir hom en hulle vrees om hul plig uit te voer.”
Dippenaar het gesê hulle is bly die video het aan die lig gekom, want nou het hulle konkrete bewyse van sy optrede.
Kops het nie op navrae om kommentaar te lewer, gereageer nie.
Die saak is tot 2 September uitgestel vir verdere ondersoek. Albei mans is op ʼn waarskuwing vrygelaat.