
Penny Sparrow se Facebook-inskrywing is wyd op sosiale media gedeel. Foto: Twitter
“Daar is geen plek vir rassiste in die DA nie en as gevolg hiervan kan Penny Sparrow nie langer op enige manier met die DA verbind word nie,” het Zwakele Mncwango, die DA se leier in KwaZulu-Natal, gesê.
Sparrow het ʼn herrie op sosiale media ontketen nadat sy glo op Facebook swart mense met ape vergelyk en gesê het sy sal alle swart mense in Suid-Afrika voortaan as “ape” aanspreek. Sparrow het hierna om verskoning gevra.
Mncwango het gesê die DA sal “altyd beslissend teenoor rassiste optree”. Die ANC het die DA egter daarvan beskuldig dat hy selektief is in die dissiplinering van sy lede, nadat Dianne Kohler-Barnard, DA-LP, haar pos kon hou nadat sy ʼn Facebook-inskrywing oor die PW Botha gedeel het en aanvanklik geskors is.