
Die ANC in die Wes-Kaap se leierskorps. Marius Fransman in die middel met bruin baadjie. Foto: ANA
Yonela Diko, die ANC se woordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat daar ‘n klag van seksuele teistering teen Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, aanhangig gemaak is.
Diko het gesê die saak is in Rustenburg ingedien waar Fransman deel is van die ANC se 104de verjaardagvieringe. Volgens Diko het hy nie in die stadium enige verdere besonderhede oor die beweerde voorval nie.
Kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het bevestig ‘n saak is aanhangig gemaak en word ondersoek. Hy het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar kon geen verdere besonderhede bekend maak nie.
Zizi Kodwa, die ANC se nasionale woordvoerder, het ook gesê hulle is bewus van die saak. “Ons herbevestig die ANC se geslagsbeleid rakende respek vir vroueregte”.