
Argieffoto
Die ANC vier vandag sy 104de verjaardag en leiers van die party sal verskeie plekke in Noordwes besoek as deel van die viering.
Pres. Jacob Zuma sal Saterdag in sy toespraak in Phokeng naby Rustenburg sake aanraak wat relevant is vir die jeug. Volgens Njabulo Nzuza, sekretarisgeneraal van die ANC Jeugliga, sal Zuma uitsluitsel gee oor die regerende party se planne vir werkskepping. “Hy sal ook beslis die kwessie van gratis onderwys vir armes aanraak,” het Nzuza gesê.
Die Jeugliga het beloof dat die verjaardagviering ʼn pronkerige affêre gaan wees. “Ons gaan met ʼn reuse- stoet voertuie by die Royal Bafokeng-stadion opdaag,” het Nzuza gesê.
Gwede Manthashe, sekretarisgeneraal van die ANC, sal Vrydag partystrukture in die Brits-omgewing besoek terwyl Jessie Duarte, adjunk-sekretarisgeneraal, Vryburg sal besoek. Baleka Mbete, nasionale voorsitter van die ANC, sal Zeerust besoek terwyl Zuma die verjaardagkoek saam met tradisionele leiers in Rustenburg sal sny.
Volgens die provinsiale polisie sal die paaie rondom die stadion van Vrydag tot Sondag gesluit wees.