ʼn 70-jarige man verskyn vandag (Vrydag) in die Goodwood-landdroshof in verband met vuurwapens, ammunisie, weermagtoerusting en Nazi-vlae wat in Desember in ʼn huis in Bothasig, Kaapstad, gevind is.
Die man is Donderdag in hegtenis geneem. Volgens die polisie is die man ook daarvan aangekla dat hy nie sy vuurwapen beveilig het nie nadat dit sonder toesig in sy motor gevind is.
Maroela Media het vroeër berig dat die polisie ʼn wenk van ʼn lid van die publiek opgevolg het en op 18 Desember op ʼn huis in Vryburgerlaan afgekom het waar die vuurwapens gevind is. Daar is glo ook op twee knaldempers, ʼn teleskoop, verskeie magasyne en ʼn groot aantal ammunisie van verskeie kalibers, insluitend R1, R5, 9 mm en .45, beslag gelê.
Volgens die polisie het beamptes ook weermag-, opleidings- en herlaaitoerusting, asook Nazi-vlae en -memorabilia gekonfiskeer.