
Die treinstasie in Keulen waar van die aanvalle glo plaasgevind het. Foto: Oliver Berg/dpa via AP
Deur die loop van die nag van Oujaarsnag en Nuwejaarsoggend het talle voorvalle in Keulen plaasgevind waarvan die wêreld nou eers begin kennis neem omdat die toonaangewende Duitse media daaroor geswyg het. In Hamburg het iets soortgelyks, maar op kleiner skaal plaasgevind. In wese kom dit daarop neer dat groepe mans “met ’n Noord-Afrikaanse” en Arabiese voorkoms vroue omsingel het, seksueel geteister en beroof het. Die internet het nie geswyg nie, en geleidelik het plaaslike media en die media in die naasliggende Nederland hieroor begin berig.
In Nederland word selfs ernstig besin oor wat gebeur het, en hoekom. Die bekende filosoof, Ger Groot, skryf uitgebreid in Trouw hieroor onder die opskrif, “Met een doortrapte en perverse moraal houdt geen beschaving het lang uit”. Hy begin sy artikel deur te verwys na ’n vroeëre artikel deur die skrywer Sylvain Ephimenco waarin hy ’n soortgelyke voorval op die moltrein in Parys beskryf.
“Daarom denk ik niet dat er in Keulen, in al die andere Duitse steden of in de Parijse metro sprake was van botsende culturen. Ik denk dat het getuigt van een demoralisering waarin de criteria voor eer en fatsoen van zowel de ene als de andere cultuur vermalen zijn geraakt. Een ontregelde jeugd doolt erin rond als in een landschap na een veldslag. Alles ligt in puin, er is geen enkele oriëntatie – behalve die van de grofste instincten van lijf en groep.”
Uit ander berigte blyk dit dat die Duitse polisie ook nie mooi geweet het hoe om die situasie te hanteer nie.
Dit wil ook voorkom asof nog lank kopgekrap gaan word, veral op amptelike vlak, om die gebeure te verklaar nadat deur ’n berg van politieke korrektheid gewerk is. Die swye van die koerante word ook ten minste ten dele voor vrees gelê dat feitelike beriggewing, soos die afkoms van die aanvallers, tot beskuldigings van rassisme sal lei.
Die gebeure in Keulen het duidelik vir baie as skok gekom. Baie van die vroue wat aangerand (twee verkragtings is aangemeld) en beroof is, was van ander plekke wat in Keulen kom feesvier het. Dit lyk asof hulle onbewus was van die nuwe dimensie wat in samelewings ontstaan het wat onregstreeks gevolg het op die ontwikkeling van heterogeniteit. Subkulture (eintlik anti-kulture) ontstaan dikwels in situasies van kulturele transito en ’n stempel word afgedruk waar getalle ’n kritiese massa bereik om deur bondeldapperheid die stempel af te druk. Ooggetuies meen ook dat die oortreders in Keulen eenvoudig aanvaar het dat hulle daarmee gaan wegkom.
Suid-Afrika het sy eie manifestasie van hierdie soort probleme. Dit het juis nou weer geblyk uit die beriggewing, en versuimde beriggewing, oor die jongste rasseherrie wat in die land losgebars het. Volgens sommige koerante, ook van koerante wat van beter behoort te weet, is dit ’n eensydige affêre met wit mense wat alleen vir die probleem verantwoordelik is. AfriForum én die Afrikanerbond het egter daarop gewys dat hulle al verskeie sake by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak het waar swart mense die beweerde oortreders is, maar dat daar nog dadels van gekom het.
Die instansies wat ewewigtigheid nastreef, gaan gewoonlik uit hul pad om te beklemtoon dat hulle juis die konflikpotensiaal wil ontlont wat in onewewigtigheid opgesluit is. Dit beteken dikwels dat deur die grens van “politieke korrektheid” gebreek moet word en hulle byna vir seker die reputasie van “rassisties en hunkerend na apartheid” op die lyf sal loop.
Soos dr. Leopold Scholtz in sy rubriek vandag maan, die manier waarop jy reageer, moet mooi bedink word.
Baie van die reaksie in die sosiale media neem ongeveer die trant aan van: “Ek het gesien hy gaan my slaan, toe slaan ek maar eerste terug.”
Volstruispolitiek laat die skuldiges egter met meer as die spreekwoordelike moord wegkom. Dit hou die gevaar in dat ’n blywende diskriminasie en verguising gemaklik onder die vaandel van “politieke korrektheid” verskans kan raak. Om Groot se terminologie in te span – ’n perverse moraal word dan die norm, en dan word van die beskawing ’n klug gemaak.
Lees meer:
‘Met een doortrapte en perverse moraal houdt geen beschaving het lang uit’
Groepsgeweld Keulen lastige kwestie voor Duitse politie
Getuige Keulen: De daders denken dat ze ermee wegkomen
Hebben de Duitse media bewust gezwegen over geweld in Keulen?
VIDEO. Ooggetuige Keulen: ‘Betasten, spuwen, schoppen … dit was echt’