
Soldate by die lugmagbasis in Pathankot, 430 km noord van New Delhi, Indië (2 Januarie 2016) Foto: AP Photo/Channi Anand
Openbare vervoer is op hoë gereedheid geplaas ná ʼn groep mans ʼn lugmagbasis in Pathankot in die noordweste van Indië aangeval het.
ʼn Polisiebeampte het bevestig sewe weermagpersoneellede is dood. Drie persone is op die toneel dood, en drie het later in die hospitaal aan hul beserings beswyk. ʼn Senior beampte van die weermag is Sondagoggend oorlede. Nog agt persone word in die hospitaal behandel.
Vier van die Pakistanse militante is tydens ʼn vyf ure lange skietgeveg dood.
Intelligensiebeamptes het aan NDTV gesê dit is moontlik dat van die aanvallers tydens die skietery gevlug het. Aanvalsgewere, mortiere, granaatlanseerders en GPS-toestelle is op die toneel gevind.
Die regering het gesê hy het inligting ontvang dat terroriste gaan poog om militêre basisse in Pathankot aan te val, maar dat die basis gereed is om te reageer.
Die ministerie van verdediging het gesê die aanvallers is dadelik opgemerk toe hulle die basis betree het en hulle kon in ʼn beperkte spasie gehou word, verwyder van die tegniese sone waar waardevolle vliegtuie gehou word.
Verskeie treine word in New Delhi vertraag terwyl beamptes van die bomeenheid ondersoek instel ná ʼn bomdreigement op ʼn hoëspoedtrein.
Daar word vermoed dat die aanval ʼn poging is om die Lahore-vredesproses tussen Indië en Pakistan omver te werp.