
Foto: Nico Strydom/Maroela Media
Die polisie is op soek na drie swaar gewapende mans nadat ʼn kitsbank by Sediba-winkelsentrum naby Hartbeespoortdam in Noordwes op Nuwejaarsdag opgeblaas is.
“Die ontploffing het Vrydag omstreeks vyf minute ná middernag plaasgevind,” het sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die verdagtes het die slot by die hoofingang oopgebreek, die veiligheidswag met ʼn vuurwapen gedreig en hom gedwing om in hul voertuig te klim.”
Die veiligheidswag kon weghardloop en terwyl hy weggekruip het, het hy die harde ontploffing gehoor voor die mans met ʼn wit VW Polo weggery het.
“Die mans het die Standard Bank-masjien met springstof gelaai en dit opgeblaas,” het Moleko gesê. “Die veiligheidswag het ontdek dat die kitsbank opgeblaas is en ʼn onbekende bedrag kontant gesteel is. Hy het dadelik die polisie ontbied.”
Die polisie versoek enigiemand met inligting om Hartbeespoortdam-polisie te kontak by 012 253 7000.