
Argieffoto
ʼn Skikking is uiteindelik in ʼn Amerikaanse hofsaak met Warner/Chappell Music bereik oor die kopiereg van die liedjie, “Happy Birthday to You”.
Dié liedjie is nou in die openbare domein beskikbaar en is gevolglik nie meer onderhewig aan kopiereg of tantiemes nie.
Die voorwaardes van die ooreenkoms is nie bekend gemaak nie, maar dit bring ʼn einde aan die hofsaak wat ʼn groep kunstenaars en filmvervaardigers in 2013 gebring het, berig Reuters.
Warner/Chappell Music het oor die jare al miljoene dollar ontvang vir die gebruik van dié wêreldbekende liedjie.
Die hofsaak het wêreldwyd belangstelling gelok, aangesien die liedjie só gereeld uitgevoer word en meeste mense nie bewus was daarvan dat dit steeds aan kopiereg onderhewig was, of deur ʼn maatskappy besit word nie.
Die liedjie het ʼn ingewikkelde geskiedenis wat in 1893 begin toe Mildred Hill van Kentucky, Amerika, en haar suster Patty, die kinderliedjie, “Good Morning to All” gepubliseer het. Dié wysie het uiteindelik die verjaarsdaglirieke bygekry.
Mense wat die liedjie by hul huise of by privaat funksies gesing het, sou nie noodwendig gedagvaar of vervolg word nie, maar wanneer die liedjie vir kommersiële doeleindes, soos in ʼn fliek, gebruik word, het Warner sy regte afgedwing en jaarliks ongeveer $2 miljoen in tantiemes ontvang.