
Argieffoto
Polisiebeamptes het ʼn minibustaxibestuurder in Johannesburg in hegtenis geneem nadat hy ʼn leë bierblikkie by die venster uitgegooi, rooi verkeersligte verontagsaam het en hulle probeer omkoop het.
Lede van die nasionale anti-korrupsie-verkeerseenheid het die taxibestuurder op Oukersaand in William Nicolweg in Johannesburg in hegtenis geneem. Hy het hulle glo met R630 probeer omkoop. “Die man was Kersdag agter tralies en sal eers Maandag in die Randburg-landdroshof verskyn,” het Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) gesê.
Nog twee motoriste het Kersfees agter tralies deurgebring nadat hulle in die Vrystaat in hegtenis geneem is omdat hulle die spoedgrens verbreek het.
ʼn Motoris van Noordwes is op die R30 in hegtenis geneem nadat hy teen 162 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery het met sy BMW. Hy word in Theunissen aangehou.
Nóg ʼn motoris in ʼn BMW is in hegtenis geneem toe hy teen 195 km/h in ʼn 120 km/h-sone op die N1-suid gery het. Sy aansoek om borgtog is by Tierpoort afgekeur.