Koning Dalindyebo is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan brandstigting, aanranding, ontvoering en strafbare manslag. Hy sou na verwagting gister om middernag by die Mthatha-maksimumgevangenis aanmeld om sy vonnis te begin uitdien.
Dalindyebo het aansoek gedoen om verlof tot appèl by die konstitusionele hof, maar die aansoek is op 2 Desember 2015 van die hand gewys
Sy regspan het egter die hooggeregshof in Mthatha genader wat hom nog ʼn week van vryheid toegestaan het om die ministerie van justisie toe te laat om sy aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding te oorweeg.
Adv. Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die ministerie, het Woensdag gesê hulle het ʼn petisie van Yasmin Omar ontvang, ʼn advokaat wat beweer dat hy Dalindyebo verteenwoordig. Die petisie het minister Michael Masutha versoek om die verhoor te laat heropen. Volgens Mhaga beroep die versoek hom op ʼn artikel in die wet wat ʼn persoon toelaat om die minister van justisie te versoek om die verhoor te heropen wanneer alle wetlike roetes in alle moontlike howe gevolg is en onsuksesvol was.
“Die minister oorweeg tans die versoek en sal reageer wanneer die nodige ondersoek gedoen is,” het Mhaga gesê. Hy het gesê Dalindyebo se borgtogvoorwaardes sal steeds vir die volgende week van krag wees.