Drie mans en ʼn vrou, almal glo in hul laat 20’s, is Woensdag in ʼn botsing op die N1 naby Heuningspruit in die Vrystaat dood.
Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het by die toneel opgedaag en die wrakke van twee motors gesien. In elke motor was vier mense vasgekeer.
“Paramedici het vasgestel dat al vier insittendes in een van die motors reeds aan hul beserings beswyk het. Die brandweerdienste is ontbied om die vier oorlewendes met meganiese toerusting uit die ander motor te sny,” het sy gesê.
Die man, vrou en twee tieners in die ander motor is gestabiliseer en na die hospitaal gehaas. Bodasing wou nie bespiegel oor die oorsaak van die ongeluk nie en het gesê die polisie sal die saak ondersoek.