ʼn Suid-Afrikaanse student wat aan die Oxford Universiteit in Engeland studeer en ʼn ontvanger van ʼn Rhodes-studiebeurs is, het gesê die geld is nie waarlik ʼn beurs nie aangesien dit bloot ʼn klein gedeelte is van die geld wat deur Rhodes gedurende sy tyd in Afrika “geplunder” is.
Ntokozo Qwabe is wyd gekap oor sy ontvangs van die studiebeurs aangesien hy ʼn voorstander is van ʼn beweging wat eis dat die Rhodes-standbeeld by Oriel College, wat met Oxford Universiteit verbind is, verwyder word.
Die Britse publikasie, The Telegraph, het berig Qwabe voer ʼn aggressiewe veldtog vir die verwydering van die standbeeld “weens Rhodes se omstrede sienings van ander rasse”. Op Qwabe se Facebook-blad het talle mense hom daarvan beskuldig dat hy skynheilig is en ʼn beroep op hom gedoen om die studiebeursgeld terug te gee, aangesien hy teen Rhodes en sy nalating gekant is.
Qwabe het teruggekap deur te sê dat hy nie werklik ʼn ontvanger van ʼn Rhodes-studiebeurs is nie.
“Ek is nie ʼn begunstigde van Rhodes of enige ander moorddadige Britse kolonialis wat die lande van my voorvaders geplunder het en my mense slawe gemaak het nie! Geen Afrikaan, op die kontinent of in die buiteland, was al ooit of sal ooit ‘ ’n begunstigde’ van Rhodes wees deur ʼn studiebeurs te aanvaar wat tans as die Rhodes-studiebeurs bekendstaan en klein gedeeltes daarvan – wat geplunder is – terugontvang nie,” het hy gesê.“In elk geval, sommige van ons het werk om te doen en moet Rhodes en sy moorddadige en koloniale makkers kry om te val, soos in gister. Wat ʼn tyd om in te leef!”
Die Rhodes Must Fall-beweging by Oxford is soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse #RhodesMustFall-beweging wat geëis het en uiteindelik daarin geslaag het dat die Rhodes-standbeeld op die kampus van die Universiteit van Kaapstad verwyder is.
Volgens The Telegraph het die Rhodes Trust verlede jaar £8 miljoen (sowat R179 miljoen) aan 89 studente toegeken.