Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Joseph Fabian (76) is omstreeks 15:30 deur drie aanvallers in sy huis oorval.
Die aanvallers het glo deur ʼn deur wat nie gesluit was nie toegang tot die huis verkry. Fabian is een keer geskiet en is op die toneel dood. Zwane kon nie gerugte dat Fabian voor die televisie geslaap het toe hy geskiet is, bevestig nie. “Die besonderhede rondom die moord is nie in hierdie stadium duidelik nie en sal deel vorm van die polisie se ondersoek,” het hy gesê.
Die verdagtes het met ʼn rekenaarskerm en ander items op die vlug geslaan. Fabian se vrou was glo ook in die huis ten tyde van die voorval, maar is ongedeerd.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, het Zwane gesê. ʼn Saak van moord word ondersoek.