
Foto: www.wikipedia.org
Die prys van brandewyn gaan waarskynlik afwaarts aangepas word. Die tesourie het aangekondig hy oorweeg dit om belasting op dié drank te verlaag.
Die vervaardiging van brandewyn is ʼn omslagtige proses wat ook onderhewig is aan ʼn verouderingsproses. “Die hoë belastingvlak waarteen brandewyn belas word, benadeel hul mededingendheid in die mark. Vyf liter wyn word gebruik om ʼn liter brandewyn te vervaardig,” lui die verklaring van die tesourie.
Die tesourie het verder gesê ander drank soos whiskey, jenewer (gin) en vodka word bevoordeel, omdat hulle nie aan so ʼn duur en uitgerekte produksieproses onderhewig is nie. “Die vraag na brandewyn het in die afgelope dekade gedaal.”
Daar word beplan om die belastingvlak met 10% oor die volgende twee jaar afwaarts aan te pas. Die tesourie hoop dié stap sal brandewynvervaardigers meer mededingend maak.