
Foto: www.gettyimages.com
Die organiseerders van die #ZumaMustFall-optogte het gesê dit was net die eerste treë tot verandering.
“Ons mikpunt is om ʼn president te hê wat met eer en integriteit regeer,” het Marian Geddes, lid van die uitvoerende komitee van dié beweging, gesê.
Duisende Suid-Afrikaners het Woensdag op Versoeningsdag aan optogte in van die groot stede deelgeneem. Die optoggangers het geëis dat pres. Jacob Zuma moet bedank, dit ná die fiasko met die ministers van finansies. Dié fiasko word gesien as die laaste druppel in die emmer wat mense laat opruk het.
“Daar het omtrent 6 000 mense aan die optog in Kaapstad deelgeneem, terwyl Johannesburg en Pretoria onderskeidelik 5 000 optoggangers elk gehad het,” het Geddes gesê.
Volgens Geddes laat Suid-Afrika se tekort aan ekonomiese groei en politieke onstabiliteit beleggers vertroue in die land verloor. Geddes het gesê die enigste manier hoe markte regtig kan herstel is “as daar ʼn leierskapverandering in die land is”.
Geddes het gesê Suid-Afrika het ʼn keerpunt bereik en dat Suid-Afrikaners gereed is om verandering te sien gebeur.