
Mmusi Maimane. Foto: Facebook
“Suid-Afrika se Versoeningsdag gee ons die geleentheid om te reflekteer oor die reis tot ʼn verenigde, maatskaplik geregverdigde en samehorige land waar ons verskille ons nie uitmekaar skeur nie, maar dit eerder ons gemeenskaplike menslikheid en ubuntu is wat ons byeenbring,” het Mmusi Maimane, leier van die DA, gesê.
“Die DA werk hard om ʼn beter Suid-Afrika te bou waarin ons as Suid-Afrikaners versoen is en saamwerk tot ʼn beter toekoms wat gebou is op die fondamente van vryheid, regverdigheid en geleentheid.”
Maimane het gesê deel daarvan om ʼn versoende nasie te bou is om die gaping tussen die “het en die het nie’s” en dié in die binnekring en die buitestanders te oorbrug. “Dit kan gedoen word deur onder meer ʼn onderwysstelsel te bou wat ons jongmense voorberei om aktief deel te neem aan ʼn groeiende ekonomie, en deur ʼn groeiende ekonomie werkskepping te bevorder.
“Die gebeure van die afgelope week het egter ons vooruitsigte as ʼn nasie groot skade berokken. Ons het nou, meer as ooit tevore, leierskap in ons land nodig wat Suid-Afrika en sy mense eerste stel.”
Maimane het gesê dit is hoogtyd dat Suid-Afrikaners kleinlike verdeeldheid agter hul stel en verenig rondom die doel om te werk tot ʼn beter toekoms wat geskoei is op versoening en regstelling.