Sexwale het op BBC se program, Hardtalk, gesê politici moet uit die afgelope week leer om nie met die finansiële markte te speel nie. “Ons is stomgeslaan hier – binne vier dae het jy drie ministers van finansies. Dit is doodgewoon nie aanvaarbaar nie en ek kan sien die president het teruggekrabbel om homself te korrigeer,” het Sexwale, wat in 2013 deur Zuma afgedank is nadat hy hom tot die leierskap van die ANC uitgedaag het, gesê.
“Die minister van finansies posisie is ʼn baie sensitiewe pos. Ek behoort te weet, aangesien ek in daardie markte sake gedoen het. Dit is nie goed vir ons beeld nie, maar ek hoop dit sal alles agter ons wees wanneer minister Pravin Gordhan – in wie ek baie vertroue het – die leisels oorneem. Ek kan klaar sien die rand het weer verbeter, want ons probeer die fout wat ons verlede week gemaak het, regmaak.”
Toe Zeinab Badawi, die aanbieder, hom vra of die tuimeling van die rand ná Nhlanhla Nene se afdanking ʼn teken is dat Zuma se mag besig is om deur sy vingers te glip, het Sexwale nie die vraag direk beantwoord nie. “As ek my stuiwer in die armbeurs moet gooi, sal ek sê politici moet weet voordat hulle besluite neem wat die gevolge van daardie besluite gaan wees, veral met betrekking tot die finansiële markte. As jy ʼn swak besluit neem en dit slaan die land, val jy van jou stoel af, skuld styg, inflasie styf, ensomeer. Ek hoop ons het nou hieruit geleer,” het hy gesê.
Die ANC het Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie Zuma geloof vir sy “dapperheid” om na voorleggings te luister en sy besluit oor David van Rooyen se aanstelling om te keer. Jessie Duarte, adjunkhoofsekretaris van die ANC, het gesê dit is ʼn bewys dat die ANC ʼn “luister-organisasie” is, wat nie bang is om ʼn besluit om te keer indien dit in die beste belang van die land sal wees nie.