Pres. Jacob Zuma se kantoor het Dinsdag in ʼn verklaring gesê Zuma het ʼn verslag ontvang van die presidensiële taakspan wat aangestel is om die befondsingsuitdagings by die land se universiteite te ondersoek. Die verslag dui daarop dat die nasionale studentefinansieringskema (NSFAS) volgende jaar onder ʼn tekort van R4.582 miljard gebuk sal gaan.
“Die verslag beveel aan R2.543 miljard van hierdie bedrag moet vanuit die fiskus beskikbaar gestel word in die vorm van lenings om sodoende korttermyn skuldverligting aan 71 753 studente te bied, wat onvoldoende befonds is of nie van 2013 tot 2015 finansiële ondersteuning kon bekom nie,” het die presidensie gesê. “Die verdere R2.039 miljard word in die 2016/2017 finansiële jaar benodig om te verseker dat studente wat tans nie befonds word nie, in 2016 befondsing ontvang.”
Die verslag het aanbeveel die NSFAS se administratiewe stelsel moet verbeter word en “die reëls oor die akademiese geskiktheid van studente vir NSFAS moet deurentyd toegepas word”.
Volgens die verklaring het die taakspan ook die ontwikkeling van ʼn nuwe finansieringsmodel aanbeveel. Die finansieringsmodel, wat behels dat banke lenings aan studente moet toestaan teen lae rentekoerse en sonder enige borge, sal volgende jaar ontwikkel moet word om in 2017 toegepas te word. “Beleggings moet ingewin word van alle belanghebbendes om implementering op die skaal wat benodig word, moontlik te maak.”
Zuma het vroeër die taakspan op die been gebring na afloop van die nasionale studentebetogings wat eksamens tot stilstand gebring en die regering gedwing het om geen verhoging in tersiêre instansies se 2016-fooie te hef nie.