ʼn Ma is dood en haar man en vier dogters ernstig beseer nadat die gesin se motor Saterdagmiddag op die N1-snelweg ongeveer 15 km buite Polokwane gerol het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die vrou is uit die voertuig geslinger toe dit verskeie kere gerol het. “Dit is nie duidelik wat veroorsaak het dat die voertuig gerol het nie,” het Meiring gesê. “Paramedici het die vrou se liggaam vyf meter vanaf die wrak van die voertuig aangetref. Sy het reeds aan haar veelvuldige beserings beswyk.”
Volgens Meiring was die pa en vier dogters, almal tussen twee en agt jaar oud, steeds in die wrak van die motor vasgekeer. Twee van die dogters was in ʼn kritieke toestand.
“Die pasiënte is op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale gehaas is,” het hy gesê. “Plaaslike polisie was op die toneel om die ongeluk te ondersoek.”