
Die moordvis (orca, oftewel killer whale) wat op 11 Desember 2015 op ʼn strand in Plettenbergbaai uitgespoel het. Foto: NSRI
Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die jong walvis, ongeveer 6 m lank, is omstreeks 20:30 op Robberg-strand gevind waar hy uitgespoel het. Dit is vermoedelik dieselfde een wat die afgelope paar dae in Plettenbergbaai gesien is waar hy naby die kus swem.
“Lede van die publiek het die NSRI-bemanning gehelp om emmers water oor die walvis uit te gooi om hom nat en gesond te hou terwyl daar planne gemaak is om dit terug in die water te kry,” het Lambinon gesê.
Een van die NSRI-bemanningslede, wat mariene biologie studeer, het met ʼn verteenwoordiger van die departement van omgewingsake en ʼn plaaslike veearts beraadslaag oor die beste plan van aksie. Lambinon het gesê verskeie pogings is aangewend om die walvis terug in die water te kry, maar weens die laagwater het die walvis telkemale weer uitgespoel.
“Die reddingspan kon naderhand daarin slaag om die walvis in ʼn sloot met water te kry wat gehelp het om hom nat te hou, terwyl reddingswerkers die walvis dieper die water in gesleep het. Toe dit vir die walvis diep genoeg was om te swem, het hulle langs hom in die see geswem terwyl hulle aan hom vashou en aanpor om al dieper te gaan,” het hy gesê.
“Die walvis het aanhou probeer terugswem strand toe. Die reddingspan het ʼn lyn in die water gemaak tussen die walvis en die strand en liggies op die water geslaan om hom aan te moedig om dieper die see in te swem.”
Volgens Lambinon is die strand dwarsdeur die nag en Saterdagoggend gemonitor en dit wil voorkom asof die reddingspoging suksesvol was. “Die walvis is gesien waar hy al langs die strandfront swem, volgens berigte besig om te vreet. Ons is versigtig optimisties dat ons reddingspoging suksesvol was,” het hy gesê.
Hy het ook al die lede van die publiek wat by die reddingspoging betrokke was, bedank vir hul moeite. “Die NSRI en lewensredders sal steeds deur die loop van die dag op die uitkyk vir die walvis wees,” het hy gesê.