
Annetjie Stassen.
Die twee is op 20 November in hegtenis geneem en het op 2 Desember teen hul derde verskyning in die Kempton Park-streekhof eers regsverteenwoordiging gehad. Die saak is tot 10 Desember uitgestel wanneer hulle na verwagting sal aansoek doen om borgtog.
Maroela Media het vroeër berig Annetjie is op 19 November deur haar vriende as vermis aangemeld nadat hulle sedert 16 November haar nie in die hande kon kry.
Die polisie het dadelik hul ondersoek by Annetjie se huis van stapel gestuur. Stassen, ʼn voormalige ingenieur, en Minnott het by haar in die huis gewoon en was van haar pensioen afhanklik. Stassen het beweer dat hy nie weet waar sy ma is nie en dat hy haar 18 November vir die laaste keer gesien het toe ʼn motor haar kom oplaai het. Annetjie was ʼn diabeet en het nie haar medikasie by haar gehad nie. Hy het egter nooit sy ma as vermis aangemeld toe sy nie by die huis opgedaag het nie.
Maroela Media het van ʼn betroubare bron verneem dat die paar glo erg bedwelmd voorgekom het toe hulle die eerste keer ondervra is.
Ná ʼn intensiewe ondersoek en ondervraging het Stassen en Minnott op 20 November onder druk geknak. Die vermistepersone-saak het ʼn moordsaak geword nadat hulle glo aan die polisie erken het hulle het Annetjie doodgeslaan. Stassen en Minnott is dadelik in hegtenis geneem.
“Die verdagtes kon nie vir die polisie sê waar die vrou se liggaam gestort is nie en het gesê hulle ‘kan nie onthou nie’. Albei het gedurende aanhouding en ondervraging verskeie plekke genoem, waaronder ʼn dam in Mpumalanga, Marble Hall asook Bronkhorstspruit,” het kapt. Jethro Mtshali, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Die deurbraak is op 22 November gemaak toe ʼn groep vroue, wat ná ʼn kerkdiens teruggestap het huis toe, op haar liggaam in ʼn veld in Bronkhorstspruit afgekom het. Haar liggaam is deur haar vriende uitgeken.
ʼn Gedenkdiens is op 1 Desember by die NG gemeente Kemptonkruin vir haar gehou. Dr. Danie Malan het die diens waargeneem.