
Argieffoto
ʼn Hittegolf-waarskuwing is Dinsdag deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik.
Die weerdiens het gewaarsku dat temperature van tot 38 grade in dele van Gauteng, Limpopo en Mpumalanga verwag kan word.
Vanetua Phakula, ʼn weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het Dinsdagmiddag aan Maroela Media gesê dat temperature na normaal teruggekeer het. “Pretorianers kan dagtemperature van tussen 31 en 33 grade verwag terwyl die kwik in Johannesburg tot ongeveer 30 grade sal styg.”
Die verwagte maksimumtemperatuur in Pretoria vir Woensdag is 30 grade, 34 grade vir Donderdag en 36 grade vir Vrydag. In Noordwes sal die kwik Woensdag na verwagting tot 34 grade styg, Donderdag tot 39 grade en Vrydag tot 40 grade.
Phakula het gesê die El Niño-weerverskynsel is verantwoordelik vir die groot aantal hittegolwe die laaste paar weke.
Kobus Olivier, ʼn wetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het aan Maroela Media gesê die ondernormale reën is ʼn seisoenale verskynsel. “Dit is moeilik om te voorspel wanneer goeie reën verwag kan word, maar dit sal beslis nie gou wees nie.”
Die weerdiens het egter gewaarsku dat daar ʼn moontlikheid van erge donderstorms aan die Wes-Rand is. Daar is ook ʼn waarskuwing uitgereik vir erge donderstorms in die Sekhukhune-, Capricorn- en die suidoostelike dele van die Waterberg-distrik in Limpopo.
Erge donderstorms word ook verwag in die Gert Sibande-, Nkangala- en westelike dele van die Ehlazeni-distrik van Mpumalanga. In die Noord-Kaap word erge donderstorms verwag oor die verre noordoostelike dele terwyl die Gariep-, Maletswai en Inkwanca-gebiede in die Oos-Kaap moontlik ook reën kan kry. In die Vrystaat is daar ʼn moontlikheid van hael in die Brandfort-gebied.