
Amabelles teen die Dragon Warriors Foto: Maroela Media
Oxford University Press het Saterdag gewys hoeveel murg is in hul pype toe hulle die jaarlikse fondsinsamelingsdraakbootwedvaart by die V&A Waterfront gewen het.
Oxford University Press het in die laaste rondte die Nelson Mandela Rhodes-stigting net-net geklop. Die Mandela Rhodes-stigting is aangewys as die span met die beste gees.
Roeiers het mekaar tydens dié prettige geleentheid uitgedaag om oudpresident Nelson Mandela se nalatenskap en toewyding tot opvoeding te vier. Dit was Saterdag die twee jaar herdenking van sy afsterwe en ʼn lourierkrans is die oggend vroeg by Mandela se standbeeld op Nobel-plein neergelê. Prof. Njabulo van die Mandela Rhodes-stigting het Madiba se nalatenskap vereer voor Jolyn Phillips, ʼn student van die stigting, die skare gelei het om die nasionale volkslied te sing.
Die draakbootwedvaart het begin toe twee jong spanne, JinHai en Dragon Warriors, mekaar aangedurf het. Die tieners in dié spanne is in graad 8, 9 en 12.
BBP’s het mekaar in die volgende rondte uitgedaag en minister Debbie Schafer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, was een van dié BBP’s.
Meer as 50 miljoen persone in nagenoeg 60 lande neem jaarliks wêreldwyd aan draakbootwedvaarte deel. ʼn Moderne draakbootspan bestaan uit 18 – 22 persone, waaronder die roeiers, ʼn stuurman en ʼn dromspeler wat die maat hou en roeiers aanmoedig. Groter draakbote het tot 52 of selfs 104 persone aan boord en “baba drake” het 10 persone aan boord.
Alle geld wat Saterdag tydens die wedvaart ingesamel is, word geskenk aan Wordworks, ʼn niewinsgewende-organisasie wat vroeë taal- en geletterdheidsopleiding onder kinders uit voorheen benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika bevorder. Wordworks is in 2005 op die been gebring.