Die Valke in Limpopo het toegeslaan op twee taxibestuurders wat daarvan verdink word dat hulle probeer het om mense van Zimbabwe na Suid-Afrika te smokkel.
Twee taxi’s is onderskep nadat die Valke inligting ontvang het dat daar gepoog word om tien volwassenes en 24 minderjariges die land in te bring.
Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, is die twee verdagtes naby Makhado vasgetrek. “Hulle is onderskeidelik 27 en 52 jaar oud,” het hy gesê.
Die minderjariges is na ʼn plek van veiligheid in Polokwane geneem. “Die tien volwassenes se status in die land word deur owerhede nagegaan,” het Mulaudzi gesê.
Die twee verdagtes sal na verwagting Maandag in die Sekgosese-landroshof verskyn op aanklagte van mensehandel.