
Jenna Koeberg
Die soektog na ʼn Pretoria-ma wat Woensdag saam met haar drie kinders verdwyn het, is vir eers afgelas.
André Putter, ʼn privaat speurder wat aangestel is om na Jenna Koeberg (31) en haar drie kinders, onderskeidelik 12, 10 en 4 jaar oud, te soek, het Vrydag aan Maroela Media gesê Jenna se man, Sean (31), het glo Donderdag ʼn boodskap ontvang dat hulle veilig is.
“Verskeie rolspelers se fone is afgeskakel en dit is nie bekend waar hulle is nie. Ons is versoek om die soektog vir eers op te skort,” het Putter gesê.
Maroela Media het vroeër berig Jenna en haar kinders is Woensdag die laaste keer omstreeks 09:00 in Moreletapark in die ooste van die stad gesien. Sy het glo haar assistent gevra om hulle langs die pad af te laai. Sy het nie haar motor, beursie, selfoon of bankkaarte by haar nie. Die moontlikheid bestaan wel dat sy kontant by haar gehad het.
Sean het haar en die kinders Woensdag as vermis aangemeld by die Garsfontein-polisiestasie.