Die voormalige Paralimpiese atleet het in 2013 op Valentynsdag sy meisie, Steenkamp, in die badkamer van sy huis doodgeskiet. Hy beweer dat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het. Die appèlhof het Donderdag Pistorius se vorige skuldigbevinding aan strafbare manslag tersyde gestel en hom aan moord skuldig bevind. Hy is tans op korrektiewe toesig vrygelaat.
Die ANC Vroueliga (ANCVL) het laat Donderdagaand gesê hulle verwelkom en loof die besluit van die appèlhof om Pistorius aan moord skuldig te bevind, “gegewe die hoë voorkoms van huishoudelike geweld in die land”. Die liga het gesê die uitspraak sal hoop bied aan talle Suid-Afrikaanse vroue wat slagoffers van huishoudelike geweld is.
“Die uitspraak kon nie op ʼn beter tyd gekom het as die herdenking van die veldtog van 16 dae van geen geweld teen vroue en kinders nie. Ons vertrou dat ʼn gepaste vonnis nou deur die howe opgelê sal word, gegewe dat mnr. Pistorius skuldig is aan moord,” het Bathabile Dlamini, ANCVL-president, gesê.
“Ons moedig alle vroue aan om enige vorm van mishandeling aan te meld, want ons het nou gesien dat ons ʼn werkende regstelsel het. Ons wil ook die staat se regspan loof vir hierdie saak en dat hulle vasbeslote gebly het in hul toewyding om alle vorme van geweld teen vroue te beveg,” het sy gesê.