Só sê prof. Annette van der Merwe van die departement prosesreg aan die Universiteit van Pretoria. Volgens Van der Merwe is die minimum voorgeskrewe vonnis vir moord nie ʼn verpligte vonnis nie, maar bloot ʼn nuwe uitgangspunt waarvan die hof sal werk.
“Die hof moet bewys daar is wesenlike en dwingende omstandighede wat die hof regverdig om van die minimumvonnis van 15 jaar tronkstraf af te wyk. Die vonnis moet proporsioneel wees tot die misdaad. Indien die hof meen 15 jaar tronkstraf sal ʼn onregverdige vonnis wees in hierdie geval, kan hulle hiervan afwyk,” het sy gesê.
Die appèlhof in Bloemfontein het Donderdagoggend gelas dat Pistorius aan moord skuldig bevind moes word en nie strafbare manslag nie. Die saak is terugverwys na die hooggeregshof vir nuwe vonnisoplegging.
Volgens Van der Merwe kan Pistorius se regspan hulle tegnies gesproke na die konstitusionele hof wend om teen die appèlhof se uitspraak te appelleer deur ʼn grondwetlike kwessie in die saak te opper, maar dit is onwaarskynlik. Sy meen Pistorius is waarskynlik ook nie finansieel in staat om die konstitusionele hof te nader nie.
Sy verduidelik die vonnisopleggingsproses moet nou van voor af gedoen word, maar beklemtoon daar sal nie weer ʼn verhoor wees nie. “Die uitspraak is gelewer en daarom is dit slegs ʼn nuwe vonnis wat gefel sal word. Die proses behoort nie langer as ʼn week te neem nie.” Sy het gesê die vonnisoplegging sal weer voor regter Thokozile Masipa geskied, wat oorspronklik die saak hanteer het, aangesien sy die saak ken en ten volle ingelig is oor al die aspekte wat tydens die vonnisoplegging in ag geneem moet word.
Volgens Van der Merwe is daar verskeie aspekte wat in ag geneem sal word wanneer op Pistorius se vonnis besluit word. “Dit is nou bloot bespiegeling, maar ek vermoed Pistorius se regspan sal swaar steun op die psigiatriese verslag wat getoon het dat hy aan ʼn angsversteuring, byna ʼn paranoia, ly, wat hom minder toerekeningsvatbaar maak. Tesame met sy gevoel van kwesbaarheid weens sy gebrek, sal hulle waarskynlik argumenteer dat dit sy selfbeheer beïnvloed het en daarom moet hy ʼn verminderde vonnis kry.”
Is dit moontlik dat Pistorius geensins weer agter tralies sal wees nie? “Dit is tegnies moontlik, maar dit is onwaarskynlik,” antwoord Van der Merwe. “Dit is nie ʼn vonnis wat dikwels opgelê word met ʼn ernstige misdryf soos moord nie, maar daar is ʼn kans.”
Sy het ook gesê die appèlhof se verandering van die oorspronklike uitspraak is geensins ʼn vingerwysing na Masipa is of haar bevoegdheid nie. “Howe maak elke dag foute en uitsprake word gereeld verander. Die appèlhof het dit ook in sy uitspraak duidelik gestel dat Masipa haar uitstekend van haar taak gekwyt het gedurende die verhoor.”
Intussen sal Pistorius steeds sy oorspronklike vonnis onder korrektiewe toesig uitdien totdat die nuwe vonnisverrigtinge begin. Dit is nie duidelik wanneer dit sal plaasvind nie en die saak mag moontlik eers in 2016 voor die hof kom.