
Argieffoto
ʼn Advokaat wat in hegtenis geneem is in verband met korrupsie, is Dinsdag in die Orkney-landdroshof in Noordwes vrygelaat op borgtog van R2 000.
“Adv. Lentswe Sydney Tlhagwane (51) het na bewering ʼn Mosambieker gehelp om ʼn Mosambiekse paspoort te bekom,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê. “Die Mosambieker is tans in aanhouding nadat hy verlede week in hegtenis geneem is in verband met renosterstropery. Hy is na bewering deel van die renosterstroopsindikaat wat verlede week oopgevlek is toe 12 verdagtes, insluitend drie polisiebeamptes, in hegtenis geneem is.”
Tlhagwane moet weer op 26 Januarie 2016 in die hof verskyn.
Mulaudzi het gesê in die renosterstroperysaak is drie polisiebeamptes vrygelaat op borgtog van R500 elk, en ʼn man van China is vrygelaat op borgtog van R20 000. Een van die verdagtes het skuld erken. Sewe verdagtes is steeds in aanhouding. Hul aansoeke om borgtog sal teengestaan word. Hulle moet Donderdag weer in die hof verskyn.