Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Mduduzi Blessing Zama het Dinsdag uit die hof ontsnap waar hy op aanklagte van sakeroof verskyn het.
Zwane het gesê daar was die afgelope paar maande inbrake by talle ondernemings in die Scottburgh sakesentrum, maar die polisie kon nie daarin slaag om die inbrekers vas te trek nie. Nadat ʼn inwoner die polisie laat weet het van twee verdagte mans wat op sy perseel rondbeweeg, is die twee in hegtenis geneem op aanklagte van onregmatige betreding.
“Terwyl hulle in aanhouding was, is hulle ondervra en dit het die polisie tot by Zama se huis in Amandawe gelei waar verskeie gesteelde items gevind is,” het Zwane gesê. “Baie van hierdie items is gesteel tydens die inbrake by Scottburgh-ondernemings. Zama is in hegtenis geneem op aanklagte van sakeroof en sou op 11 Augustus in die hof verskyn.”
Zama was egter slinks en het homself by die hof as ʼn ander verdagte voorgedoen, wat op ʼn aanklag van dwelmgebruik verskyn het en met ʼn boete vrygelaat is. Teen die tyd dat hof-ordonnanse hul fout agtergekom het, het Zama homself reeds uit die voete gemaak.
“Daar word ʼn beroep gedoen op enigiemand wat weet waar Zama homself bevind om ao. Yugen Moodley by 039 978 9917 te skakel of Crime Stop by 08600 10111,” het Zwane gesê.