
Argieffoto: ER24
ʼn Kleuter van Lephalale (Ellisras) het Donderdagmiddag erge brandwonde opgedoen nadat warmwater op hom gemors is.
Volgens Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het die voorval in Shongoane plaasgevind.
“Paramedici is ingelig dat die kind se broer hom glo in ʼn stootwaentjie buite die huis rondgestoot het waar ander kinders water op ʼn vuur warm gemaak het,” het Bodasing gesê. “Die kinders het na bewering besluit om die houer met warmwater op die stootwaentjie te laai en die water het glo op die kleuter beland toe hulle die waentjie gestoot het.”
Die seuntjie het ernstige brandwonde oor die linkerkant van sy lyf opgedoen. Hy het uit die waentjie gespring en huilend na sy huis gehardloop, waarna paramedici ontbied is.
Hy is op die toneel behandel en met ʼn ambulans na Mediclinic Lephalale geneem vir mediese sorg.