Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Maties-taalbeleid: ‘Meer as 30 000 steun referendum’

$
0
0
stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Argieffoto.

Meer as 30 000 oudstudente en belanghebbendes het in samewerking met die vakbond Solidariteit in ʼn onlangse referendum vir die behoud van Afrikaans op die Universiteit Stellenbosch (US) deelgeneem.

Solidariteit gaan die uitslag van die referendum Maandag tydens ʼn raadsvergadering aan die universiteitsraad oorhandig.

Die referendum volg nadat die rektor, prof. Wim de Villiers, vroeër vandeesmaand planne aangekondig het om Engels die verstektaal by die US te maak. Prof. De Villiers beweer dat dit uit gesprekke met studenteorganisasies, waaronder Open Stellenbosch, geblyk het dat Matie-studente Engels as die universiteit se amptelike voertaal steun.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, bevestig die wye steun vir Afrikaans op US uit verskeie oorde dat eensydige besluite deur universiteitsrade nie gelate aanvaar kan word nie. “Dit is verblydend om te sien hoedat die Afrikaanse taalgemeenskap so eensgesind vir die behoud en ontwikkeling van Afrikaans op tersiêre vlak opstaan,” het Hermann gesê.

ʼn Afgevaardigde van Solidariteit sal die uitslag van die referendum voor vandag se vergadering aan die universiteitsraad oorhandig.

Intussen het ’n vergadering met die oog op die stigting van ’n Afrikaanse alumni-vereniging die afgelope naweek op Stellenbosch plaasgevind. Dié vergadering het gevolg nadat nagenoeg 2 000 alumni van verskeie universiteite onlangs hul steun vir só ’n vereniging uitgespreek het.

’n Kerngroep het Saterdagoggend vergader om die stigtingsakte van die vereniging te bespreek. Lede van die stigterskomitee is Piet le Roux, Hermann Giliomee, Francois Venter, Annette Combrink, Jacques van der Elst, Deon Geldenhuys, Paul Colditz, Dirk Hermann en Jacques du Preez.

Lees meer oor die Maties-taalbeleid op Maroela Media.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images