
Argieffoto
Drie mans, tussen 23 en 54 jaar, is oor die naweek naby Orkney in Noordwes in hegtenis geneem vir die moord op ʼn 21-jarige man.
Sers. Kealeboga Molale, polisiewoordvoerder, het gesê een van die verdagtes het Saterdagaand in Kanana na ʼn toilet buite sy huis gegaan en ʼn mes saamgevat omdat die gebied onveilig is.
“Hy is deur die oorledene, Sabata Motlhaoleng, en twee medepligtiges oorweldig en aangeval toe hy uit die toilet gekom het. Die man wat aangeval is, het om hulp geroep en sy vriende in die huis het hom te hulp gesnel,” het Molale gesê.
Motlhaoleng en sy twee vriende het op vlug geslaan. Motlhaoleng is egter ingehaal, met knopkieries aangerand en met ʼn mes doodgesteek. Sy medepligtiges kon daarin slaag om weg te kom.
ʼn Klag van moord is by die polisie aanhangig gemaak en die verdagtes is in hegtenis geneem. Hulle sal Maandag in die Orkney-landdroshof verskyn.