
Ná die Masiphumelele-brand op 29 November 2015 Foto: Nathan Geffen, GroundUp.org.za via Creative Commons
Drie persone het Sondagoggend gesterf in twee verskillende brande wat in informele nedersettings in Kaapstad uitgebreek het.
“Die stad se brand- en reddingsdiens is omstreeks 01:00 na Masiphumelele ontbied waar ʼn groot hoeveelheid informele nedersettings gebrand het,” het Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, in ʼn verklaring gesê.
Ongeveer 800 informele strukture, een dubbelverdiepinghuis en twee enkelverdiepinghuise is verwoes. ʼn Man en ʼn vrou is in een van die informele strukture oorlede. Ongeveer 3 000 persone is dakloos gelaat.
Beamptes van die rampbestuureenheid en die Suid-Afrikaanse Rooi Kruis was op die toneel om noodverligtingsplanne te koördineer, waaronder om kos, babapakke, matrasse en komberse te verskaf. De Lille het gesê die Masiphumelele-gemeenskapsaal is as ʼn noodskuiling oopgestel.
Altesaam 14 brandweerwaens is na die toneel ontbied waar 65 brand- en reddingsdienspersoneellede deur beamptes van Tafelberg Nasionale Park bygestaan is. Die brand is omstreeks 06:00 geblus en die spanne was besig met skoonmaakoperasies en om seker te maak dat die gebied veilig is.
In hierdie stadium is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie. Die polisie stel ondersoek in.
In nog ʼn voorval het ʼn brand omstreeks 23:00 Saterdagaand in Joe Slovo in Langa uitgebreek waar 125 informele strukture verwoes is. Ongeveer 500 persone is dakloos gelaat. Een man het noodlottige beserings opgedoen. Die brand is ongeveer 03:30 Sondagoggend geblus. Betrokke inwoners bly tans by vriende en familie. Die Mustadafin-stigting was op die toneel om verligting te bied, waaronder kos en komberse.
“My diepste medelye aan die families wat hul geliefdes in hierdie tragedies verloor het,” het De Lille gesê. “Ons is midde in brandseisoen en ek doen ʼn beroep op alle inwoners om uiters versigtig op te tree om almal se veiligheid te verseker.”