Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Een dood, een vermis ná vissersboot by Gordonsbaai omslaan

$
0
0
Beligting wat die NSRI gebruik het om die kuslyn te verlig om te soek na die vermiste visserman (Foto: NSRI)

Beligting wat die NSRI gebruik het om die kuslyn te verlig om te soek na die vermiste visserman (Foto: NSRI)

Een visserman is dood, een word vermis en drie is gered nadat hul boot Saterdagaand naby Gordonsbaai omgeslaan het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in ʼn verklaring gesê.

“Die Transnet-nasionale hawe-owerheid het die NSRI Gordonsbaai omstreeks 21:30 ontbied ná berigte oor rooi noodfakkels in die omgewing van Harbour Island,” het Edward Russouw, adjunkstasiebevelvoerder, gesê. Die NSRI, Suid-Afrikaanse Polisiediens en Gordonsbaai veiligheid, en privaat ambulansdienste het reageer.

ʼn Flitslig is in die verte opgemerk ondanks ʼn stormsterkte suidoostewind. “Die NSRI het, ongeveer een seemyl van Harbour Island, op die omgeslane snoekvissersboot afgekom. Drie mans het aan die boot gehang en hulle het vasgehou aan die liggaam van nog ʼn man,” het Russouw verduidelik.

Die drie vissermanne en die liggaam van die vierde man is na die kus geneem. “Paramedici het die drie oorlewendes vir verkluiming behandel, en hulle het nie verdere behandeling in ʼn hospitaal benodig nie.”

Die liggaam is aan die polisie en die departement van gesondheid se forensiese patologiediens oorhandig.

Russouw het gesê die oorlewendes het bevestig dat ʼn vyfde visserman, wat ʼn lewensreddingsbaadjie aanhet, weggedryf het van die omgeslane boot. “ʼn Kuslynsoektog is onderneem in die verwagting dat hy moontlik op die strand uitgespoel het weens die sterk wind,” het hy gesê. “Nooddienste het ligtoerusting gebruik en voertuie is ingespan om die kuslyn te verlig, waar die man moontlik sou uitspoel, indien die ligging van die omgeslane boot, windspoed, en rigting van die seestrome in ag geneem word.” Weens die vlak water kon die soektog nie deur bote onderneem word nie. Die gebied is tevergeefs gefynkam. Die polisie se duikeenheid is ook op bystand geplaas.

“Die vissermanne se familielede het by die seereddingsbasis aangekom en die polisie het traumaberaders gereël. ʼn Pastoor van Kaapstad se brand- en reddingsdiens het hom ook by die beradingspan aangesluit.”

Die vissermanne het gesê hulle het die dag gaan visvang en hul boot het weens die sterk wind omgeslaan. Hulle is almal van Strand en is hegte vriende.

Ondanks ʼn omvattende soektog is die vermiste visserman nog steeds nie opgespoor nie. Die soektog duur voort.

Die omgeslane boot is ook nog nie uit die water gehaal nie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!