
Foto: ANA
ʼn Totaal van vyf verdagtes is reeds in hegtenis geneem in verband met die voorval Woensdag by die Savannah Mall toe ʼn groep gewapende mans ʼn juwelierswinkel beroof het. Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag kontant en juwele gevlug, waarna een van die verdagtes die veiligheidswag wat toevallig op die toneel afgekom het, doodgeskiet het.
Twee verdagtes is Woensdag ʼn paar uur ná die rooftog in hegtenis geneem nadat die polisie hulle deur middel van beeldmateriaal van kringtelevisiekameras geïdentifiseer het. Kapt. Ntobeng Phala, woordvoerder van die polisie, het gesê die ander verdagtes is Donderdagoggend by ʼn huis in Seshego in hegtenis geneem.
“Ons is baie optimisties dat ons die oorblywende verdagtes ook in hegtenis sal neem.” Phala het gesê die verdagtes sal tereg staan op aanklagte van moord en gewapende roof.