
Skermskoot: Haberturk TV via AP
Die neerskiet van ʼn Russiese vegvliegtuig deur die Turkse lugmag wys dat internasionale verhoudinge ingewikkelder is as ‘my vyand se vyand is my vriend’. Maar dit wys ook dat ʼn land nie met alle lande bevriend kan wees sonder om sommige lande suur te maak nie. Dit is ook ʼn belangrike les vir Suid-Afrika oor hoe om jou vriende te kies.
Een swaeltjie maak nie ʼn somer nie, maar een Russiese vegvliegtuig wat op die grens tussen Sirië en Turkye neergeskiet is, kan die ysigheid van die koue oorlog aansienlik laat verdiep – juis noudat sommige waarnemers vordering in die verhoudinge tussen Rusland en die VSA en sy bondgenote opgemerk het.
Die agtergrond is die neerskiet van ʼn Russiese SU-24 deur twee Turkse F16’s. Turkye beweer twee Russiese vliegtuie het die Turkse grens geskend en skynbaar herhaaldelik bo Turkse grondgebied gevlieg, sonder om op die Turke se waarskuwings te reageer. Rusland hou vol die grens is nie geskend nie, maar Navo, van wie Turkye ʼn lidland is en die VSA wys daarop dat die grens wel geskend is, skynbaar vir sowat drie sekondes. Die VSA verskil egter van die ander, deur daarop te wys die neerskiet self het oor Siriese grondgebied geskied.
Die twee Russiese vliegtuie was, na berig word, op ʼn sending om Turkmeense rebelle te bombardeer. Die Turkmene, wat ook teen die diktator Basjar al-Assad veg, kry simpatie uit Turkye. (Die Turke en die Turkmene word nie as verwant aan mekaar beskou nie – Turkye het egter self ʼn klein Turkmeense bevolking wat meestal nomadies leef. Die Siriese Turkmene se lojaliteit teenoor Turkye kom egter oor baie dekades. In Sirië is dikwels erg teen hulle gediskrimineer en die Siriese Turkmene is byvoorbeeld lid van die Unrepresented Nations and Peoples Organisastion (UNPO) waar die VF Plus die Afrikanerbelange verteenwoordig).
Rusland, as ʼn bondgenoot van Assad, het in die Siriese konflik betrokke geraak om Assad se bewind te rugsteun, eerder as om die IS spesifiek die stryd aan te sê.
Eers ná die vernietiging van ʼn Russiese passasiersvliegtuig bo die Sinai deur ʼn groep wat by die IS geaffilieer is, het Rusland sy aanvalle op die IS verskerp. Dit het inderdaad die deure geopen vir nouer samewerking tussen Rusland en die bondgenootskap teen die IS, maar dit sou behels Rusland moet ook ophou om die bondgenootskap se pro-demokrasiegroepe aan te val.
Betroubare berigte oor sulke aanvalle het bykans opgedroog en die gefnuikte aanval op die Turkmene kom in wese daarop neer dat Rusland met sy vingers in die spens se koekieblik gevang is. Rusland se pres. Poetin het egter die neerskiet van die vliegtuie as “ʼn mes in die rug van Rusland deur die handlangers van terroriste” beskryf. Hiermee het hy skynbaar sy siening bevestig dat hy almal wat die wapen teen Assad opneem, as terroriste beskou en nie net die IS en Al Kaïda-gesinde groepe nie.
Uit reaksies in die Europese media is dit duidelik die meeste lesers is meer as keelvol vir Poetin. Daar is byvoorbeeld uitgewys Rusland stuur gereeld vliegtuie om Nederland en ander Europese lande se lugruim te toets, wat dit nodig gemaak het om die Russiese vliegtuie te onderskep. Russiese duikbote in Sweedse gebiedswater word ook saam met ʼn reeks ander “sondes” genoem.
Hierdie lesers neem nie juis ʼn pro-Turkse houding in nie. Europeërs verafsku pres. Erdogan van Turkye al hoe meer en hy is goed met die teerkwas bygedam.
Turkye het al herhaaldelik gekla die Russiese vegvliegtuie skend sy grens met Sirië en die vliegtuie is al by herhaling sonder reaksie gewaarsku.
Rusland se probleem is dit is bykans onmoontlik om rebellevestings naby die Turkse grens onder bomme te steek sonder om, vir hul eie veiligheid, ontwykingsmaneuvers teen moontlike grond-tot-lugmissiele uit te voer. Hiervoor het hulle meer ruimte nodig as die smal korridor tussen die vestings en die Turkse grens. Die Russe weet ook die rebelle sal nie sommer oor die grens skiet nie, omdat Turkye altyd baie hewig reageer as bomme op sy grondgebied beland. Trouens, verskeie Turke het al so gesterf.
Die rebelle, tensy hulle té noue bande met die Koerde het, verwag ook nie lugaanvalle oor die Turkse grens nie en hul lugafweer is in ander rigtings opgestel. Navo het ʼn spoedsitting oor die voorval gehou en ʼn beroep op Turkye gedoen om sy houding jeens Rusland “af te koel.” Solidariteit met Turkye is egter herbevestig.
Rusland se wysheid om Turkmene te gaan bombardeer kan bevraagteken word. Dit waarborg nie net feitlik moeilikheid met Turkye nie, maar met ʼn rits lande met oorwegend, of groot, Turkmeense bevolkings wat in ʼn strook tot in China voorkom.
Die eerste toets is nou die poging van die Franse president, François Hollande, om ʼn internasionale koalisie van sowat 50 lande teen die IS op die been te bring. Dit is nie net Rusland se eiesoortige belange wat ʼn struikelblok is nie, maar ook die Turke s’n. Die Turke het eers laat vanjaar werklik teen die IS begin optree, ook eers nadat Turkye op eie bodem onder IS-terreur deurgeloop het. Trouens, Turkye is van té noue bande met die IS beskuldig, onder meer weens die gemeenskaplike afkeer in Koerdiese nasionalisme. Tot vandag toe word Turkye in sekere kringe beskuldig van klandestiene bande soos om olie by die IS te koop. Iran se vyandskap teen die IS is nog een van vele kopkrappers.
Wat dít betref, is die IS sy eie grootste vyand. Met sy terreurdade waar hy bykans geen land ontsien nie, maak hy seker dat min lande nie die kalifaat so gou as moontlik van die aardbol wil sien verdwyn nie.
Oor die neerskiet van die Russiese vliegtuig deur Turkye, lag die kalifaat se Sanhedrin stellig lekker. As jou vyande mekaar aan die bors gryp, kry jy immers minstens ʼn blaaskans.
Vir meer agtergrond lees gerus:
Die Standaard hier,
Christian Science Monitor hier,
De Standaard hier,
Trouw hier
Focus Online (Duits) hier