
Brand by Tshwane Universiteit van Tegnologie se Soshanguve-kampus (November 2015) Foto: @dash_derrick, Twitter
Die Tshwane Universiteit van Tegnologie is vandeesweek genoop om ʼn baie moeilike besluit te maak wat die eksamen betref.
“Die universiteit het ʼn plig om die veiligheid van elke student te verseker terwyl hulle in ons sorg is,” het Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, in ʼn verklaring gesê. “Dit is ook ons verantwoordelikheid om seker te maak die omgewing is gunstig vir die akademiese sukses van ons personeel en leerlinge. Weens die gewelddadige aard van betogings wat op die Soshanguve-kampusse verlede week plaasgevind het, en oor die naweek voortgeduur het, het die bestuur besluit om alle akademiese aktiwiteit en eksamen op Soshanguve se noord- en suid-kampusse op te skort vir die res van die jaar.”
De Ruyter sê die besluit is nie ligtelik geneem nie. “Ons besef watter impak dit op ons studente kan hê, veral finalejaarstudente. Die veiligheid van ons personeel en gemeenskappe op daardie kampusse was egter ons prioriteit.”
Sy het gesê die datums vir die finale eksamens vir 2015, vir studente aan TUT se Shoshanguve noord- en Shoshanguve suid-kampus, is tot 2016 uitgestel. “Dit is gefinaliseer en goedgekeur.”
Hiermee die belangrikste datums:
• Hoof eksamens sal tussen 11 en 29 Januarie 2016 plaasvind
• Hereksamens sal tussen 1 en 12 Februarie 2016 plaasvind
• Uitgangs- of spesiale eksaments sal tussen 22 en 26 Februarie 2016 plaasvind
• Registrasie van eerstejaars sal op 1 Februarie 2016 plaasvind
• Registrasie van senior studente sal tussen 8 en 19 Februarie 2016 plaasvind
• Lesings sal op 15 Februarie 2016 begin
Inligting oor die betrokke lokale sal in Januarie 2016 bekend gemaak word.
“Een van die kwessies wat herhaaldelik aangehaal word as die wortel van die onlangse gewelddadige betogings op die Soshanguve-kampusse, is dat studente met uitstaande studieskuld nie hul akademiese uitslae kan ontvang nie,” het De Ruyter bygevoeg. “Dit is baie belangrik om kennis te neem dat studente met uitstaande studieskuld wel toegelaat word om die finale eksamens af te lê, op voorwaarde dat hulle aan die akademiese vereistes voldoen.”
Sy het gesê ʼn memorandum van verstandhouding is op 17 November deur bestuur en die sentrale Verteenwoordigende Studenteraad onderteken. “Volgens hierdie ooreenkoms mag studente met uitstaande studieskuld wel toegang bekom tot hul uitslae en akademiese rekords. Studente met uitstaande studieskuld, wat graag hul uitslae wil sien en hul studies wil hervat, moet hul ouers bring en dit sal saak vir saak oorweeg word,” het De Ruyter verduidelik. “Daar sal van hierdie ouers verwag word om ʼn skulderkenningsooreenkoms met die universiteit aan te gaan en hulle sal dan dienooreenkomstig bygestaan word.”