
M-Net
Die vakbond Solidariteit het die betaalkanaal M-Net vandag daarvan beskuldig dat hy onbillik teen wit mense diskrimineer. Dit volg nadat M-Net in ʼn onlangse advertensie aangedui het dat slegs swart, Indiër en bruin kandidate vir ʼn betaalde internskapprogram by sy Magic in Motion Academy mag aansoek doen. Luidens die advertensie kan tot soveel as 20 individue in die program geakkommodeer word.
Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, voldoen die advertensie nie aan die bepalings van die Wet op Diensbillikheid nie. “Die genoemde advertensie is niks anders as ’n absolute uitsluiting van wit mense nie en kom op ʼn kwotastselsel neer,” het Groenewald verduidelik. “Kwotastelsels word deur die genoemde wetgewing verbied. Die howe, insluitend die konstitusionele hof, het boonop reeds bevind dat die gebruik van ʼn kwotastelsel en die absolute uitsluiting van persone op grond van hul velkleur onregmatig is.”
Volgens hom het Solidariteit verskeie klagtes van wit kandidate ontvang wat aan die vereistes vir die internskap voldoen, maar wat weens hul velkleur nie vir die program mag aansoek doen nie.
“Solidariteit het M-Net in ’n skrywe vermaan om die advertensie sodanig te wysig dat wit mense ook vir die genoemde posisies mag aansoek doen. Indien M-Net nie aan ons versoek gehoor gee nie, sal ons ʼn amptelike klag by die Menseregtekommissie indien,” het Groenewald gesê.
Die vakbond het voorts ʼn beroep op die publiek gedoen om hul stem teen M-Net se rassistiese optrede te laat hoor deur ʼn petisie by www.solidariteit.co.za te onderteken. Solidariteit sal die petisiebrief aan M-Net se bestuur oorhandig.
Gaylyn Wingate-Pearse, woordvoerder vir M-Net, het intussen aan Maroela Media bevestig dat hulle die skrywe van Solidariteit ontvang het. “Ons bestudeer die inhoud van die brief en die meriete van die bewerings. Ons aanvanklike siening is dat dit moontlik gebaseer is op ‘n misverstand,” het Wingate-Pearse gesê. “Ons bestudeer en verifieer egter die brief in sy geheel en sal dan reageer.”